Min is ontsien in die Mededingingskommissie se ondersoek na moontlike kartelvorming in die landbou sedert die begin van die jaar. Gister was dit 'n ondersoek na 'n kartel wat die prys van brood eensydig verhoog het, vandag na 'n samespanning onder koringmeulenaars en môre na 'n moontlike gekonkel in die silobedryf en die res van die koring-waardeketting.
Drie van die grootste belanghebbende in die land se broodbedryf, naamlik Pioneer Foods, Tiger Food Brands en Premier Foods, word sedert Desember verlede jaar deur die kommissie ondersoek.
Vroeg in die ondersoek het Pioneer aansoek gedoen om amnestie in ruil vir inligting oor die broodkartel. Hieruit het dit duidelik geword dat daar ook sprake van kartelvorming in die koringmaalbedryf is.
Verlede week het Tiger erken dat hy by kartelvorming ten opsigte van die broodprys én die koringmaalbedryf betrokke was. Tiger Brands en die kommissie het in 'n skikking ooreengekom dat Tiger byna R98,8 miljoen vir sy betrokkenheid by die broodkartel sal opdok. Dit is 5,7 % van die maatskappy se omset van R1,7 miljard in die vorige boekjaar.
Die kommissie sal Tiger egter nie vir sy aandeel in 'n moontlike kartel in die maalbedryf vervolg nie mits hy inligting sal verskaf wat die vervolgingsgesag met sy ondersoek sal help. Pioneer is vrygestel in hierdie saak ná hy daaroor "gebieg" het.
In 'n voorlegging verlede jaar aan die ministeriële komitee wat landboubemarking hersien, het Graan SA gesê in die koringmaalbedryf het die vier groot koringmeulenaars 'n gesamentlike markaandeel van 87 %, terwyl kleiner meulens die oorblywende 13 % verteenwoordig. Die koringmark is gedereguleer, maar dit wil voorkom of mededinging in die verwerkingsektor nie beduidend toegeneem het nie, is in die voorlegging gesê.
"Die uitkoms van die kommissie se bevindinge oor die samespanning in die bak- en koringmaalbedryf is nie 'n verassing nie", het mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, gesê. "As die aanbevelings van die kommissie deur die tribunaal bekragtig word en verdere klagtes van samespanning deur die groot voedselgroepe bevestig word, kom dit op blatante uitbuiting van die res van die koringwaardeketting neer."
Graan SA verwelkom die toepassing van erkende meganismes wat nou aangewend is om onmededingende sakepraktyke aan die kaak te stel.
Mnr. Thulani Kunene, hoof van nakominge by die Mededingingskommissie, sê die kommissie het 14 meulens geïdentifiseer en is besig om vyf in verband met die moontlike kartelvorming te ondersoek.
Graan SA sê die vier groot groepe in die koringmaalbedryf beheer 90 % en meer van die bedrywighede en ook 'n groot persentasie van die bakbedrywighede in Suid-Afrika.
Kunene sê Shan Ramburuth, kommissaris van die Mededingingskommissie, het versoek dat daar op die totale waardeketting gefokus moet word. "Ons moet spesifiek onmededingende optrede ondersoek wat verbruikers regstreeks raak."
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van die Meulenaarskamer, sê hoewel die koringsaak nog nie afgehandel is nie, dit verblydend is dat onmededingende praktyke op die lappe kom.
De Villiers sê dat daar reeds jare lank bewerings van samespanning is. "Binne 'n beheerde mark moet die staat pryse reguleer, maar in 'n vrye mark is dit die mededinging wat waghond moet speel."
Hy hoop dat die boete wat met skuldigbevinding opgelê word as 'n duidelike waarskuwing sal dien.
Landbouweekblad, 23 November 2007