Landbou
EU eis sentrale beheer
ISABEL STOLTZ

Die hantering van aanmeldbare dieresiektes en die monitering van chemiese residue op Suid-Afrikaanse diere- en plantprodukte in sal voortaan amptelik die verantwoordelikheid van die nasionale Departement van Landbou wees. Dit sal nie langer deur provinsies op eie inisiatief bestuur word nie.

Dit kom nadat die Europese Unie sy misnoeë te kenne gegee het met die feit dat die departement geen beheer oor die provinsies se bestuur en hantering van veeartsenydienste het nie en 'n verbod op Suid-Afrikaanse uitvoer ingestel het.

Die georganiseerde landbou pleit al jare lank dat aspekte van dieregesondheid sentraal beheer moet word nadat die uitbreking van verskeie aanmeldbare dieresiektes die afgelope paar jaar ernstige gebreke in die stelsel uitgewys het.

So 'n voorstel is ook vervat in 'n verslag wat die Dieregesondheidsforum, wat 16 organisasies in die diereproduksie-en-gesondheidsbedryf verteenwoordig, sowat ses maande gelede aan die Minister van Landbou voorgelê het. Na verneem word, is ontvangs daarvan nog nie erken nie.

Die departement het verlede week op 'n navraag gesê daar is aan al die vereistes van die EU voldoen.

Dit wil egter voorkom of niks nog op skrif is nie en dit is waarop die EU aandring.

Na verneem word is 'n ooreenkoms deur al die provinsies se direkteure van landbou in beginsel goedgekeur, maar moet dit nog deur die onderskeie LUR'e vir landbou onderteken word.

Die departement het by navraag daaroor aan Landbouweekblad gesê "die regering werk in harmonie deur al sy vlakke. Beleid en protokolle word voortdurend op 'n konsulterende manier ontwikkel. Een so 'n protokol wat op dieregesondheid betrekking het, is aanvaar en word onderteken. Die proses behels sirkulasie van die oorspronklike dokument na al die provinsies vir 'n oorspronklike handtekening. Die proses is amper klaar."

Hoewel die EU dreig om 'n rits uitvoerprodukte waaronder pluimvee en heuning te staak, word slegs drie werklik geraak, naamlik volstruis-, wild- en krokodilvleis. Die res word in elk geval nie na die EU uitgevoer nie. Verlede jaar is 2 145.2 t volstruisvleis, 242.5 t wildsvleis en 12 t krokodilvleis na die EU uitgevoer.

Volgens mnr. Anton Kruger, hoof uitvoerende beampte van die Volstruisbesigheidskamer, het die bedryf nog niks amptelik rakende die uitvoersituasie ontvang nie en uitvoer gaan steeds voort.

Landbouweekblad, 23 November 2007