Landbou
Afgri lewer goeie resultate


Die landboudienstegroep Afgri Beperk se wesensverdienste per aandeel het met 18,9 % verbeter vir die ses maande tot op 31 Augustus. Dit sluit die erkenning van 'n eenmalige buitelandse belastingvoordeel van R20 miljoen in.

Die maatskappy het bekend gemaak dat sy wesensverdienste per aandeel 22,7 sent is teenoor die 19,1 sent van die vorige ses maande. Verkope het vergeleke met die vorige ses maande het met 19,3 % verhoog. Die belangrikste bydraers tot die toename was produkte (35,6 %) weens hoër volumes en grondstofpryse, finansiële dienste (22,7 %) weens hoër rentekoerse en 'n groter debiteureboek en produsentedienste (11,2 %) gesteun deur hoër primêre insette en toerustingverkope.

Mnr. Jeff Wright, besturende direkteur, sê die resultate is bevredigend as die droogte en die gevolglike laer opbrengs en oes in ag geneem word. Hy wys daarop dat Afgri se resultate tradisioneel ook swakker in die eerste helfte van die jaar is.

'n Toename in dividende van 14,8 % is verklaar en daar was 'n voortgesette bedryfsverbetering in kleinhandel sowel as 'n sterk vertoning deur die braaikuiken- en veevoerafdeling.

Landbouweekblad, 23 November 2007