Landbou
Biodiversiteit in Sandveld
Deur LUCILLE BOTHA

Biodiversiteit in die Sandveld gaan voortaan beter bewaar word danksy 'n samewerkingsooreenkoms tussen rolspelers in die aartappel- en rooibosteebedrywe.

Met die Groter Cederberg Biodiversiteitskorridor-projek (GCBC) wil Cape (Kaapse aksie vir mense en die omgewing), Cape Nature, die regering, en boere die omgewing bewaar en terselftertyd voordele aan mense bring. Korridors is 'n nuwe benadering tot die effektiewe bewaring van spesies en kritieke habitatte.

Verlorenvlei, een van die grootste vleilande aan die Weskus, is sentraal tot die poging. Dié vlei voorsien ook grondwater aan aartappelprodusente in die Sandveld-omgewing. Luidens 'n Cape Nature-verklaring word sowat 200 liter grondwater gebruik om 1 kg aartappels te produseer. Die Sandveld produseer jaarliks sowat 22 miljoen sakkies aartappels (van 10 kg).

'n Boekie met riglyne vir die beste boerderypraktyke om aartappelsvolhoubaar te produseer het onlangs die lig gesien. Die rooibostee-bedryf is kort op hul hakke om 'n soortgelyke gids te publiseer.

Grondeienaars, gemeenskappe en die privaat sektor se deelname aan die projek is vrywillig. "In samewerking met Aartappels SA se produsente, beoog die GCBC om oor die langtermyn 'n biodiversiteitsgedrewe ekonomie in die Sandveld te stig deur volhoubare aartappelproduksie," lui 'n verklaring.

Me. Tasneem Essop, provinsiale minister van omgewing, beplanning en ekonomiese ontwikkeling, het gesê sy het onlangs oor die Sandveld gevlieg en die "verwoesting wat landbou-praktyke tot volg gehad het, was skokkend".

Volgens Essop kan die res van die wêreld nou by die Sandveldse produsente kom kers opsteek oor die verbeterde boerderymetodes.

20 November 2007