Landbou
Vryloop-hoenders kry 'vlerke'
Deur CHARL VAN ROOYEN

Boerdery met vryloop-hoenders het 'n hupstoot gekry met die aankondiging dat een van die grootste boerderye drasties gaan uitbrei en mense in agtergeblewe gemeenskappe die geleentheid gaan gee om mee te doen.

Mnr. Mike Bosch wat die Boschveldhoender uit verskillende geharde Afrikarasse geteel het, het tydens die opening van 'n nuwe broei-eenheid op sy plaas in Bela-Bela (Warmbad) gesê belangstelling in die hoenders is so groot dat hy selfs besoekers van oorsee en van oral in Afrika kry. Hy het reeds 'n miljoen van hierdie hoenders verkoop sedert hy in 1999 met die telery begin het.

Dit het 'n nederige begin gehad, want Bosch het die hoenders eers aangehou om bosluise van sy beeste af te pik. Die hoenders moes self sien kom klaar en tussen die roofdiere oorleef. Die wat oorleef het, het hy gebruik om mee te teel en so het die Boschveldhoender ontstaan.

Bosch boer nou voluit volgens die vryloopbeginsel en het reeds 130 000 henne om eiers te produseer. Hy beoog om dit tot 500 000 henne uit te brei.

Hy het kontrakte met swart gemeenskappe gesluit om te help eiers produseer sodat hy volhoubaar aan sy klante kan voorsien en gaan nou konsessies verkoop. Dit behels 'n betaling van R8 miljoen, waarvoor Bosch die hoenderhuise en vryloopareas oprig en 40 000 henne verskaf wat gereed is om eiers te lê. Dit sluit 'n kontrak in om alle eiers vir tien jaar te koop.

Me. Pinky Kekana, burgemeester van die Waterberg munisipale gebied, wat die nuwe broei-eenheid geopen het, het gesê hulle gaan met Bosch hande vat om opkomende boere te bemagtig. Twee konsessies gaan eersdaags aangepak word. Sy het Bosch en ander plaaslike boere geloof vir die wyse waarop hulle voedsel produseer en gesê sy sal hulle altyd ondersteun.

20 November 2007