Die onbegonne taak wat gestel is om vaardighede in die landbou te help vestig, laat die Agri Seta al meer dink grondhervorming is nie vir die Regering werklik 'n voorrangsaak nie.
Die onbegonne taak wat vir die AgriSeta gestel is om vaardighede in die landbousektor te help vestig, laat dié organisasie al meer dink grondhervorming is nie werklik 'n voorrangsaak vir die Regering nie, aldus mnr. Machiel van Niekerk, hoof uitvoerende beampte van AgriSeta.
Die AgriSeta, een van die kleinste opleidingsliggame in die staat se sektor vaardigheidsprogram wat onder die Departement van Arbeid val, het dus die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake gesmeek om hulp.
Landbou-opleiders van die AgriSeta beklemtoon verder die situasie is ernstig, maar tog kan hulle nie 'n vergadering met me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, of ander verantwoordelike ministers kry om hul groot kommer te bespreek nie. Samewerking op die hoogste vlakke van die Regering bestaan bykans nie.
Van Niekerk het reguit aan lede van die komitee gesê: "Ons lei opkomende boere op sodat hulle sál misluk".
21 November 2007