'n Handelsbank en Amerikaanse organisasie wat oorsese bystand verleen, het deur 'n ooreenkoms van R300 miljoen om opkomende boere te help, die spreekwoordelike Rubicon van dié hoë risiko wêreld oorgesteek.
USAid en Eerste Nasionale Bank (ENB) se ooreenkoms beteken dat die bank met meer vertroue lenings aan individuele boere en groepe begunstigdes van grondhervorming kan uitreik. Volgens die ooreenkoms sal USAID waarborg staan vir 50% van die risiko wat die bank neem.
Lenings aan individue sal 'n maksimum van R2 miljoen beloop terwyl R10 miljoen per projek geoormerk word, volgens die ooreenkoms.
Termynlenings sal sowat 40% van die totale waarborg van R300 miljard uitmaak, terwyl 60% in produksielenings van kommoditeite uitgeleen sal word. Mnr. Sizwe Nxasana, hoof van ENB filiaal, FirstRand Bank, glo die ooreenkoms kan as voorbeeld dien vir toekomstige en soortgelyke ooreenkomste wat landbou in Suid-Afrika kan laat transformeer.
Mnr. Mike Vacy-Lyle, segspersoon van ENB se kommersiële afdeling, beklemtoon die bank besef ook die erns van mentorskap vir volhoubaarheid. Samewerking met ander agentskappe en voorligters is dus noodsaaklik. ENB poog om selfs met marktoegang by te staan.
22 November 2007