WASHINGTON, DC. - Die vooruitsigte lyk al hoe droewiger dat Amerika vanjaar sy handelsverwringende landbou-beleid gaan hersien deur 'n hervormde Farm Bill vir die volgende vyf jaar te aanvaar.
Die vorige Farm Bill, wat in 2002 aanvaar is, was veronderstel om teen einde 2007 deur 'n nuwe weergawe vervang te word. Weens politiekery op Capitol Hill is die kanse egter nou goed dat dieselfde omstrede subsidie-bedeling as wat reeds dekades in gebruik is, tot so lank as na die presidentsverkiesing in 2008 sal geld.
In Amerika is die ernstigste implikasies hiervan dat beloofde nuwe subsidies vir voedselhulp, plaasmarkte, omgewingsbewaring op plase, en groente- en vrugte-verbouers nie dadelik in werking sal tree nie.
Vir die res van die wêreld se boere, wat in 'n ongelyke mark met Amerika se hoogs gesubsidieerde graanprodusente moet meeding, beteken dit 'n waarskynlike voortsetting van die omstrede kommoditeit-subsidies wat sedert 2002 kragtens die heersende Farm Bill aan 'n derde van Amerika se saaiboere uitbetaal word.