Landbou
EU-uitvoer plaas druk op staat
AINSLEY MOOS

Die wye media dekking en ongunstige politieke kommentaar het druk op die Regering uitgeoefen om duidelikheid te kry oor die uitvoerstatus van belangrike Suid-Afrikaanse landboubedrywe na die Europese Unie (EU).

Mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van Landbou, het uit Brussel aan Landbouweekblad gesê die uitvoer van verskeie landbouprodukte gaan voort. Dit sluit in volstruis en wild. Mbongwa sê daar is met die EU ooreengekom dat lam, hoender, melk en vark nie op die lys van uitvoerprodukte gevoeg word nie. Hy sê weglaatbare hoeveelhede van dié produkte word na die EU uitgevoer en daarom is dit verwyder. Dit beteken nie die deur is toe sou daar later groot hoeveelhede van dié produkte uitgevoer word nie, sê hy.

Volgens Mbongwa het hy mnr. Robert Madelin, die EU se direkteur-generaal vir gesondheid en verbruikersbeskerming, versoek om die Suid-Afrikaanse media en die politieke klimaat in Suid-Afrika te help bestuur. Mbongwa sê hy het die versoek gerig nadat hy twee ander belangrike sake aangeroer het.

Dit het ingesluit uitsprake deur 'n EU-woordvoerder dat 'n uitvoerverbod wel toegestaan is. "Ons moes duidelikheid kry. Dit is nie hoe mens optree nie — om sommer sulke stellings te maak nie. Hulle het die saak aan ons verduidelik."

Mbongwa sê die EU se besluit sal finaal bevestig word op 'n vergadering wat vir 4 Desember beoog word.

Landbouweekblad, 30 November 2007