Landbou
Broodkartel: Nog ondersoeke?
NICO VAN BURICK

Die Mededingingskommissie se bevindings oor samespanning in die bak- en koringmaalbedryf kan 'n invloed hê op die ondersoeke wat Graan SA vroeër vanjaar na die markmeganisme vir grane (veral koring) aangevra het.

Op Graan SA se kongres in Maart is bekend gemaak dat die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) en die Mededingingskommissie versoek is om grane en oliesade se inset- en uitsetkant te ondersoek sowel as die rol wat Safex-kontrakte in prysvasstelling speel.

Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê die onlangse bevindings kan dalk 'n invloed op die ander ondersoeke hê, maar hy hoop om nog in November terugvoer van die twee instellings te kry. "Van die belanghebbendes in die bedryf het ons kwalik geneem omdat ons vir die ondersoeke gevra het. Ek wonder wat sê hulle nou," het hy gesê.

Hy sê as daar kartelvorming aan die kleinhandelkant moontlik is, kan dit ook aan die aankoopkant gebeur.

Landbouweekblad, 30 November 2007