Landelike gemeenskappe gaan hul waaksaamheid in die komende feestyd móét verskerp.
Die georganiseerde landbou vra dat dit as teenvoeter moet dien vir wat beskou word as 'n landwye vlaag van misdaad wat tans ervaar word.
In die Vrystaat, waar een van sy leierboere in 'n plaasaanval gewond en 'n werker doodgeslaan is, het mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou, wéér gemaan dat sekere dae, soos Kersdag en Sondae, deur misdadigers gebruik word om boere, hul gesinne en werkers af te maai.
Steytler het dieselfde waarskuwing 'n jaar gelede gerig nadat 'n bejaarde boer, mnr. Jan Greyling, en sy vrou, Johanna, in die distrik Trompsburg vermoor is.
Intussen is vyf verdagtes aangekeer wat na bewering die 64-jarige mnr. Flip Henning gewond en sy werker, die 48-jarige mnr. Kallie Pieterse, met 'n ysterpyp op die plaas Straussfontein doodgeslaan het.
Die vyf mans, wat moontlik met die Greyling-moord verbind word, is deur 'n uitgebreide optrede deur die distrik se boere en polisie in hegtenis geneem.
Steytler sê die jongste voorval in Trompsburg is 'n bewys dat plaaswerkers net so blootgestel is aan aanvalle soos hul werkgewers en dat almal deur misdaad in die landelike gemeenskappe geraak word. Hy het die vinnige, georganiseerde optrede van die boere geloof ná die aanvallers so gou aangekeer is.
Die Vrystaat is nie die enigste provinsie waarin die landelike gemeenskappe onder misdaad gebuk gaan nie.
Die liggaam van die 70-jarige mnr. Michael de Lange is vroeër in sy huis op die plaas Vogelstruisfontein, naby Dorset in Limpopo, gevind nadat 'n brand in die opstal aangemeld is. Sy uitgebrande bakkie is later by Modimolle op die pad na Vaalwater aangetref.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die noordelike tak van die TLU SA, het vroeër ook heftig gereageer oor aanvalle in sy gebied waartydens boere vermoor en gewond is. Hy het 'n beroep op veiligheidspatrollies gedoen om kwesbare en bejaarde mense wat op plase woon, gereeld te besoek. "Bure speel ook 'n belangrike rol om kontak met die bejaardes te verseker."
In KwaZulu-Natal is die 52-jarige mnr. Andy Main van Cramond die 11de kommersiële boer wat vanjaar in dié provinsie vermoor is. Mnr. Koos Marais van Kwanalu het hom op die Regering beroep om die sinnelose moord en aanvalle op die land se voedselvoorsieners te help beëindig. "Misdaad en die beveiliging van plase kos boere in dié provinsie jaarliks R200 miljoen. 'n Plaas is 'n oop werf wat moeilik beveilig kan word."
Landbouweekblad, 30 November 2007