Die Suider-Afrikaanse Biobrandstofvereniging (Saba) is teleurgesteld nadat die verwagte en noodsaaklike biobrandstofplan vir die soveelste keer nie deur die Kabinet goedgekeur is nie. Mnr. Andrew Makenete, Saba se voorsitter, sê die aanhoudende uitstel van die Kabinetsbesluit oor biobrandstof, wat die beleid vir die vestiging van die bedryf in Suid-Afrika moet neerpen, is onaanvaarbaar.
Volgens mnr. Themba Maseko, regersingswoordvoerder, het die Kabinet wel die plan op verlede week se ontmoeting bespreek, maar meen te veel kwessies het nog aandag nodig voordat dit aanvaar kan word. Hy hoop die plan sal oor twee weke op die volgende Kabinetsvergadering goedgekeur word, maar kan nie verseker dat dit vanjaar wel afgehandel sal word nie.
Sake wat stééds by die politici spook en waaroor hulle blykbaar steeds geen duidelikheid kan kry nie, is die kwessies van voedselgewasse vir biobrandstof, hoë kospryse en die ernstige watertekort in die land, sê Maseko.
Hy erken die Regering is daarvan bewus dat die debat oor voedselgewasse vir biobrandstof nie meer bepalend in die res van die wêreld is nie, maar dat dit in Suid-Afrika nog tot versigtige en kern besprekings aanleiding gee.
Die plan bevat groot beleidskeuses, sê hy. "Daar is nog nie finaal gekyk na watter gewasse (mielies of suiker) gebruik gaan word nie. Moeilike keuses gaan binnekort hieroor gemaak moet word."
Die biobrandstofplan moes al in September goedgekeur word. Die biobrandstofbedryf is bekommerd oor al die beleggingsmoontlikhede wat tans weens die gesloer verbeur word.
Landbouweekblad, 30 November 2007