Landbou
Grondhervorming stop nie by 30%
ISABEL STOLTZ

Die Regering se mikpunt om 30 % van alle kommersiële landbougrond teen 2014 in swart hande te hê, is nie sy uiteindelike doelwit nie.

Grondhervorming sal eers tot 'n einde kom wanneer grondeienaarskap die demografie van die land weerspieël, sê me. Tumi Seboka, waarnemende hoofgrondeisekommissaris.

Haar antwoord het gevolg op 'n navraag van Landbouweekblad in Oktober aan mnr. Tozi Gwanya (toe nog hoofgrondeisekommissaris) of normale markkragte in grondhervorming toegelaat gaan word om in te tree sodra die Regering die mikpunt van 30% bereik het.

"Grondhervorming is 'n ingrypingstrategie wat nie voortdurend kan aanhou nie. Dit is bedoel om die skewe en onbillike patrone van grondeienaarskap in die apartheidsjare reg te stel.

"Sodra dié patroon voldoende herstel is en grondeienaarskap die demografie van hierdie land weerspieël, sal die program beëindig word," het Seboka skriftelik geantwoord.

Sy het bevestig dat restitusie-eise nie weer oopgestel sal word nie, maar dat laat eise (wat ná 31 Desember 1998) ingedien is, deur ander grondhervormingsprogramme (soos die grondherverdelingsprogram) gehanteer sal word.

Gwanya het ook in antwoord op 'n vraag om duidelikheid oor die mikpunt van 30 % gesê dit geld vir grondoordrag landwyd en nie per provinsie nie.

Tog het die provinsiale grondhervormingskantoor in KwaZulu-Natal volgens die regeringsnuusdiens BuaNews berig dat 30 % van wit kommersiële landbougrond in dié provinsie oorgedra gaan word.

Volgens Seboka is die grondoordrag van 30 % wel 'n nasionale en nie 'n provinsiale doelwit nie, maar dat provinsies "binne nasionale riglyne" hul eie "realistiese doelwitte" kan stel.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee, sê die Regering speel nie oop kaarte met die landbou oor grondhervorming nie.

"As die doelpale die hele tyd verskuif word, gaan daar baie minder motivering by die georganiseerde landbou wees om daarby uit te kom, want waarheen werk 'n mens dan?"

Hy sê die landbou hou juis asem op dat plase waarop restitusie-eise in die Staatskoerant afgekondig is, maar die eise later teruggetrek is van die lys gehaal word.

"Sommige plase gaan al langer as agt jaar gebuk onder sulke eise omdat geen ontwikkeling mag plaasvind nie. Die proses verlam die landbou."

Hoewel verskeie versoeke in dié verband aan die Regering gerig is, is nog geen versekering daaroor gegee nie.

Landbouweekblad, 30 November 2007