Landbou
Langkloof flenters ná vloedskade
Deur THEUNS BOTHA

Miljoene rande se skade is deur vloedwater in die Langkloof aangerig toe meer as 500 mm reën binne twee dae in die omgewing van Avontuur tot by Misgund uitgesak het.

Dit is nie net die infrastruktuur wat erg beskadig is nie. Ook honderde hektaar vrugteboorde en opgaardamme het in die slag gebly en daar word gevrees dat die vrugte-oes erg in die wiele gery sal word. Agri Oos-Kaap het reeds versoek dat 'n opname gedoen word om moontlik die streek tot 'n rampgebied verklaar te kry.

Teen Maandag kon die meeste boere weens skade aan die infrastruktuur nog nie vasstel wat die omvang van hulle verliese was nie. "Wat ons wel al kon sien het groot mans laat huil," het mnr. André de Wit, voorsitter van die Langkloof-landbouvereniging gesê.

Mev. Anna de Wit van die Fairview-landgoed by Misgund, sê bejaarde inwoners meen dit is die ergste vloed in dekades. Benewens die swaar reën, het die gronddamme ween die massa water soos domino's getuimel en die grootste skade aan die boorde veroorsaak. Altesaam 13 damme het oor 'n oppervlakte van 5 kilometer gebreek. "Hoe nader die plase aan die berg is, hoe meer reën het daar geval. Hier is huise wat meer as 70 jaar gelede gebou is, wat die eerste keer oorstroom is."

Mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê samesprekings is reeds met die direkteur-generaal en LUR van Landbou van die Oos-Kaap gevoer. Hy is bekommerd oor die groot produksieverliese wat vrugteboere in die gesig staar. Hy kon egter nie bevestiging of sowat 4 000 plaaswerkers volgens nuusberigte afleggings in die gesig staar nie.

27 November 2007