Landbou
Regering gekap oor inflasie


Volgens die nuut uitgereikde Monetêre beleidoorsig van die Reserwe Bank is dit duidelik dat die Regering as gevolg van swak beheer regstreeks verantwoordelik is vir die feit dat inflasieteikens nie bereik kan word nie, sê mnr Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA se komitee vir ekonomiese sake.

Meintjes sê die drie items wat 47% bygedra het tot die administrerende prysinflasie nl. grondbelasting, water en elektrisiteit, word regstreeks deur die Regering met wetgewing beheer. Die Grondwet maak dit verder ook duidelik dat belasting nie só ingestel mag word dat dit die Regering se monetêre beleid onguntig beïnvloed nie. Volgens die statistiek is die onderskeie verhogings van die drie items se faktore as volg:
Grondbelasting 60%.
Water 33%.
Elektrisiteit 36% (en volgens aanduidings beplan Eskom 'n verdere ongeveer 20% oor die volgende jaar.)

Hierdie neiging is teenstrydig met ander statistieke wat wys dat munisipaliteite 93% wins maak op die verkope van water en 70% op die aankope van elektrisiteit. Sou die verhogings in lyn gewees het met die inflasie teikens, sou die indeks 0,6 punte laer gewees het. Dienslewering deur plaaslike owerhede het nie dienooreenkomstig verbeter nie, en boonop word tussen 30 % en 45% van die inkomste aangewend vir personeel uitgawes.

Die instel van buitensporige grondbelasting tariewe deur plaaslike owerhede ingevolge die nuwe wetgewing, gaan sekerlik 'n verdere ongunstige invloed hê op die verbruikersprysindeks.

27 November 2007