Die vierde produksieskatting vir koring is sowat 2,45% of 41 950 ton meer is as die 1,715 miljoen ton van die vorige skatting, sê die Nasionale Oesskattingskomitee.
Dié komitee sê in 'n nuusverklaring dat die oppervlaktes beplant met koring, kanola en soetlupine onveranderd gelaat is, terwyl die oppervlakte beplant met moutgars wel effens verander het.
Die vierde produksieskatting vir koring is 1,757 miljoen ton, wat 2,45% of 41 950 ton meer is as die 1,715 miljoen ton van die vorige skatting. Die verwagte opbrengs is 2,78 t/ha teenoor 2,71 t/ha van die vorige maand. Hoewel die verwagte koring-oes effens gestyg het weens goeie reënval, veral in die Wes-Kaap, neem die skatting nie die moontlike geringe nadelige invloed in ag wat die onlangse swaar reënval in die vernaamste produksiegebiede op die kwaliteit van die oes kan hê nie.
Die produksieskatting vir moutgars is 199 874 ton, wat 2,02% of 3 964 ton meer is as die 195 910 ton van die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met moutgars is aangepas vanaf 73 200 ha van die vorige skatting tot 73 360 ha. Die verwagte opbrengs beloop 2,72 t/ha.
Die verwagte kanola-oes is 39 840 ton, wat 20,0% of 6 640 ton meer is as die 33 200 ton van die vorige skatting, met 'n verwagte opbrengs van 1,20 t/ha.
In die geval van soetlupine is die produksieskatting 13 300 ton, 18,75% of 2 100 ton meer as die 11 200 ton van die vorige maand. Die verwagte opbrengs is 0,95 t/ha.
Die oppervlakte- en vyfde produksieskatting van wintergewasse vir 2007 word op 20 Desember 2007 vrygestel.
Gebaseer op insette ontvang vanaf 'n steekproef van produsente, saadmaatskappye, provinsiale departemente van landbou, en die Nasionale Oesskattingskonsortium, word die verwagte oppervlakte met mielies beplant vir die 2007/08-seisoen beraam op 2,754 miljoen ha, wat 7,9% meer is as die 2,552 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is.
Hierdie verslag gee 'n aanduiding van kommersiële boere se voornemens om somergewasse te plant soos middel November 2007. Die toename in die oppervlakte aangeplant word hoofsaaklik toegeskryf aan die goeie vroeë seisoen reënval wat verhoogde grondvog voorsien het.
Die opname toon dat produsente van voorneme is om 1,693 miljoen ha witmielies aan te plant, wat 68 400 ha (4,2%) meer is as in die vorige seisoen. Met verwysing na geelmielies is die verwagte aanplantings 1,061 miljoen ha, wat 133 600 ha (14,4%) meer is as in die vorige seisoen.
In die geval van sonneblomsaad het verwagte aanplantings toegeneem met 64,4% in vergelyking met die vorige seisoen, hoofsaaklik as gevolg van hoër pryse. Grondboon-, en sorghum-aanplantings toon ook toenames van onderskeidelik 32,5% en 30,4%. Nietemin toon die verwagte aanplantings van soja- en droëbone afnames van onderskeidelik 9,8% en 17,2%.
Die Oesskattingskakelkomitee gaan die mielie- en sorghum-oeste vir die 2006/07-seisoen op 29 November 2007 finaliseer.
27 November 2007