Landbou-werksaamhede op die Hoëveld word genoem as een van die faktore wat daartoe bygedra het dat dié gebied amptelik tot 'n nasionale besoedelingsgevaarpunt verklaar is.
Dié verklaring is pas ingevolge die nasionale omgewingsbestuurwet oor luggehalte uitgereik deur die Departement van Omgewingsake en Toerisme.
Dit bepaal dat die oostelike gedeeltes van Gauteng en die westelike gedeeltes van Mpumalanga met 'n bevolking van sowat 3.6 miljoen erg besoedelde lug het wat deur verskeie industriële, myn- en landbouaktiwiteite veroorsaak word.
Die gebied sluit dorpe soos Witbank, Middelburg, Standerton en Balfour in. Van die sondaars is kragstasies, houtbedrywe, steenmakerye, myne en kunsmisfabrieke. Dit is die tweede gebied naas die Vaal-Driehoek wat as 'n gevaarpunt vir lugbesoedeling verklaar word.
'n Luggehalte bestuursplan moet nou in samewerking met al die betrokkenes vir die gebied saamgestel word.
28 November 2007