Voedselpryse bly die groot dryfveer te wees agter die skerp styings in inflasie. Volgens die jongste inligting van Statistieke Suid-Afrika (SSA) beloop inflasie (VPIX) vir Oktober 7,3 %. In September het dit 6,7 % beloop. Die styging in die algemene prys van goedere en dienste is sedert vroeër vanjaar buite die Reserwebank se inflasiemikpunt van 3 % tot 6 %.
Volgens me. Noelanie King Conradie, 'n onafhanklike ekonoom, kan 'n groot deel van die styging in die inflasiesyfer toegeskryf word aan die styging in kospryse. Sy sê voedselpryse beslaan bykans 'n kwart van die inflasiesyfer. Kospryse het jaar op jaar met 12,3 % gestyg. In September het voedselinflasie 11,9 % beloop.
Luidens 'n verklaring van SSA word die styging in voedselpryse hoofsaaklik toegeskryf aan die stygings in pryse van graanprodukte, groente, melk, kaas, eiers en vleis.
Landbouweekblad, 7 Desember 2007