Vrystaat Landbou eis dat 'n kommissie van ondersoek beweerde onregmatige en agterlosige optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op Trompsburg bekyk. Daarby word die kop van dié dorp se stasiebevelvoerder, kapt. Edith Phafudi, geëis.
Vrystaat Landbou eis ook dat die voorgestelde ondersoektaakspan deur 'n onpartydige landdros of regspraktisyn aangevoer word en nie lede van die Trompsburgse polisie insluit nie.
Dit volg ná die onlangse moord op mnr. Kallie Pieterse, en die aanval op sy werkgewer, mnr. Philip Henning op 'n plaas in die distrik.
Luidens beëdigde verklarings wat deur lede van die Trompsburgse gemeenskap afgelê is, kon die polisie die plaasaanval voorkom indien leidrade vooraf opgevolg is. Dit is een van die talle klagtes wat die publiek teen Trompsburg se polisie ingebring word.
Intussen is die Wes-Kaapse suiwelgemeenskap geskok oor die moord op een van sy melkkopers. Dr. Nazier Chitkay van Akhtbar Dairies, by sy suiwelaanleg in Phillipi doodgeskiet.
Mnr. Dèan Kleynhans, voorsitter van die gebied se Melkprodusente-organisasie, het sy afkeur in die sinnelose misdaad uitgespreek en sê Chitkay se dood raak agt melkprodusente, 96 plaaswerkers en hulle 384 gesinslede.
Die land is ook onlangs geruk deur die moord op 'n legendariese bewaringsgesinde. Die liggaam van die 80-jarige mnr. Franz Richter is met koeëlwonde in die kop en bors op sy plaas by Muldersdrift, wes van Johannesburg, aangetref.
Landbouweekblad, 7 Desember 2007