Landbou
Onderverdeling nie beskerm
JEAN-MARIE DE WAAL

Die toekomstige behoud en beskerming van landbougrond moet dringend deur mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van Landbou, ondersoek word, sê Agri SA.

Dit volg nadat 'n onlangse uitspraak deur die appèlhof in Bloemfontein die weg gebaan het dat landbougrond onderverdeel kan word sonder dat die Minister van Landbou toestemming daarvoor hoef te gee.

Dit kan ook beteken dat besluite oor die onderverdeling van landbougrond ten volle in die hande van plaaslike regerings oorgedra kan word. In 'n brief aan Mbongwa sê Agri SA hy is bekommerd oor die uitwerking wat dié beslissing kan hê.

"Dit kan die beskerming van landbougrond teen onderverdeling en ontwikkeling in die gedrang bring," het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê.

Agri SA sê die beskerming van landbougrond moes al lankal 'n voorrangsaak vir die Regering gewees het. Dit moes in wetgewing wat tans bespreek word, ingesluit gewees het. Die vertraging in die afhandeling van die konsepwet oor die Volhoubare Gebruik van Landbouhulpbronne, wat die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) vervang, wek kommer.

Volgens die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond (70 van 1970) moet toestemming van die Minister van Landbou verkry word sodat boerdery op onekonomiese eenhede vermy kan word. Die benadering wat deur die beslissing gevolg word, naamlik dat grond nie landbougrond is nie slegs tensy dit so verklaar word, is gevaarlik en baie skadelik, lui kommentaar op die webwerf.

Landbouweekblad, 7 Desember 2007