Landbou
Strategie vir grondhervorming
ISABEL STOLTZ

Daar is uiteindelik amptelike erkenning vir die feit dat grondhervorming 'n nasionale verantwoordelikheid is en nié op die skouers van boere en die Grondeisekommissie alleen behoort te rus nie.

In 'n omvattende strategie vir volhoubare grondhervorming word voorgestel dat 'n gesamentlike regeringsprogram steun ten opsigte van hervestiging saam met die private sektor en die gemeenskap bestuur. Dit is in teenstelling met die gefragmenteerde benadering wat tot nou gevolg is.

Swak plaaslike regering en onderlinge departementele skakeling is van die sleutel beperkings vir doeltreffende grondhervorming, word in die dokument gesê.

Die dokument "Settlement and Implementation Support (SIS) Strategy for Land and Agrarian Reform in South Africa" is saamgestel deur die Sustainable Development Consortium (SDC) met Belgiese steun en die samewerking van die Grondeisekommissie en verskeie belanghebbendes.

Daar word in 'n oorsig oor die proses gekyk na foute, tekortkominge en regstellings om 'n suksesvolle toekoms vir grondhervorming te verseker.

In haar voorwoord tot die lywige dokument sê me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, dit is duidelik dat suksesvolle grondhervorming baie meer behels as die herstel en herverdeling van grond.

Daar is 'n algemene erkenning dat die proses nie aan die verwagtinge van begunstigdes voldoen het nie en bitter min tot groter sekerheid en verbetering van lewensgehalte bygedra het.

Die mislukkings word hoofsaaklik toegeskryf aan 'n gebrek aan vaardighede en die afwesigheid van finansiële en tegniese steun ná vestiging.

Dit blyk uit die dokument dat strategiese vennootskappe op geen manier bygedra het tot voordele vir begunstigdes nie en in baie gevalle word hul onkunde misbruik.

Die proses word verder gekniehalter deur 'n groot gebrek aan 'n wetenskaplik gesteunde inligtingsbasis oor die betrokke eisers, eise en grond. 'n Inligtingsbasis van restitusie-eise wat van die Grondeisekommissie ontvang is, het byvoorbeeld op 299 276 eise gestaan en ná 'n "skoonmaakproses" waarin duplikaat- en ongeldige eise verwyder is en eise wat saamhoort, saamgevoeg is, het die totaal op 8 874 te staan gekom.

Die Departement van Grondsake sal oorhoofs verantwoordelik wees vir die SIS in vennootskap met die Departement van Landbou, hoewel daar weens "leierskap- en bestuursuitdagings" kommer is of die Departement van Grondsake tans die "institusionele vermoë, menslike kapitaal en politieke wil" vir dié verantwoordelikheid het.

Die dokument stel voor dat 'n interministeriële komitee vir grond- en landbouhervorming onder voorsitterskap van die presidensie tot stand gebring word wat momentum aan die SIS moet gee.

Landbouweekblad, 7 Desember 2007