Die groeiende vraag na organiese katoen kan in Suid-Afrika 'n ommeswaai in die bedryf beteken nadat katoenaanplantings weens swak pryse die afgelope jare gekrimp het van sowat 83 000 ha in 1997/98 tot die huidige 11 500 ha.
Die vraag na organiese katoen het wêreldwyd met 118% per jaar toegeneem van 13 610t in 2004 tot 45 837t in 2006.
Die kleinhandelgroep, Woolworths, hoop nou om met 'n suksesvolle toetsprojek in die Oos-Kaap en Limpopo die aanplanting van organiese katoen in Suid-Afrika te vestig. Die groep is die derde grootste verbruiker van organiese katoen ter wêreld en beoog om sy verkope van klere met organiese inhoud oor die volgende vyf jaar met meer as R1 biljoen per jaar te verhoog.
Die projek word deur Katoen SA gesteun.
Daar word geraam dat kleinhandelverkope van organiese katoenprodukte wêreldwyd sal verdubbel van sowat $3.5 biljoen in 2008 tot $6.8 biljoen teen die einde van 2010.
30 November 2007