Landbou
Plaasaanvalle hou aan - TLU SA


Benewens die elf insidente gedurende November 2007 sowel as die eerste paar dae van Desember in TLU SA se Noordstreek, is dié organisasie ook bewus van soortgelyke wrede aanvalle in ander dele van die land.

Só sê die TLU SA in 'n nuusverklaring.

Sou die tendens in die Limpopo Provinsie, waar daar in een maand bykans soveel aanvalle as die eerste helfte van die jaar was, ook elders in ander provinsies van toepassing wees, wag daar 'n onveilige tydperk gedurende die Kerstyd.

Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, het die unie se ernstige kommer uitgespreek oor die ooglopende toename in gewelddadige misdaad. Soos in die verlede blyk die vlakke van mishandeling en die bloeddorstigheid van aanvallers, uniek te wees in gevalle waar plaasbewoners geteiken word. Dit dui op toenemende onverdraagsaamheid en weerwraak.

Van der Walt sê die unie is bewus van die leierskapstryd binne die ANC en die gevolge daarvan op die aanloop tot die komende kongres in Pietersburg. Tot tyd en wyl die teendeel bewys word, kan die unie tot geen ander gevolgtrekking kom dat die standaard van polisiëring en die toenemende arrogansie waarmee geweldsmisdaad uitgevoer word, tekenend van die tyd is. Wat egter die verstand te bowe gaan is voortgesette pogings deur sommige polisiestasies se kommissarisse om oënskynlik alles moontlik te doen om die inisiatiewe deur boere om hul woon- en werksgebiede te beveilig, in die wiele te ry. Ondanks versekerings tydens onlangse gesprekke met die SAPD op nasionale vlak, blyk dit dat ondernemings wat gegee is, nie gerespekteer word nie.

Van der Walt het beklemtoon dat lede van die TLU SA positief reageer op die oproepe van beide president Mbeki en die Minister van Veiligheid en Sekuriteit om aktief deel te neem om woon- en werksgebiede te beveilig. Die TLU SA sal dus voortgaan om die lewens, eiendom en belange van lede te beskerm met die vermoëns tot sy beskikking. Gevolglik doen hy 'n beroep op plaaswagte en boere om met nougesetheid om te sien na die veiligheid van lewe en eiendom in die landelike gebiede.

3 Desember 2007