Landbou
Nuwe kommer oor onteiening
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Nuwe beleidsvoorstelle wat die onteiening van grond ingrypend kan verander, stuur gevaarlike seine vir eiendomsregte en die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper in Suid-Afrika.

Burgerlike organisasies is glad nie gelukkig met die trant en "verskuilde bedoelings" van die voorstelle wat twee weke gelede deur die Departement van Openbare Werke in die Staatskoerant gepubliseer is nie, soos in Landbouweekblad berig is. Hulle glo die sterk indikasies dat daar weg beweeg wil word van markwaarde as 'n maatstaf om vergoeding te bepaal, sal eiendomsregte ernstig knou.

"Die onderliggende doelwit is duidelik om 'n besondere politieke agenda te bevorder," meen me. Nikki de Havilland, adjunk-direkteur van die FW De Klerk-stigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte. Volgens haar ís dit nodig om die Onteieningswet van 1975 in lyn met die Grondwet te bring, maar die inhoud van die voorstelle wat as grondslag sal dien vir 'n nuwe onteieningswet is kommerwekkend.

Volgens die voorstelle, kan die Minister van Landbou en Grondsake in die tussentyd bepaal hoeveel vergoeding aan 'n eienaar betaal behoort te word, onderhewig aan die hersiening of goedkeuring van die howe.

Me. Annelize Crosby, Agri SA se raadgewer oor regs- en grondsake, sê dit wil vir haar voorkom asof die staat probeer het om 'n manier te vind om minder as markwaarde vir grond te kan betaal. "Billikheid is egter veronderstel om die deurslaggewende oorweging te wees veral wanneer dit by onteiening kom."

De Havilland is oortuig die rede vir die voorstelle is om die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper te omseil sodat daar volgens 'n uitvoerende besluit opgetree kan word.

  • Lees die volledige berig in Landbouweekblad van 7 Desember.

    Landbouweekblad, 7 Desember 2007