Die besluit deur die Kabinet om nie mielies as 'n energiegewas vir die produksie van biobrandstof te gebruik nie, wys die landbou is heeltemal "uitverkoop" ten gunste van die oliebedryf. Gevolglik is die biobrandstofbedryf in Suid-Afrika nou doodgebore, sê mnr. Fanie Brink, besturende direkteur van Biofuels Industry Development.
Die Kabinet het pas die finale plan vir biobrandstof op 'n vergadering in Pretoria goedgekeur. "Boere gaan hierdie belaglike besluit in die Grondwethof moet beveg. Dit is die ernstigste ingryping in die landbou wat ons al in die vryemarkstelsel gesien het," het Brink gesê.
Volgens Brink sal graanboere nou na 'n maksimum van twee miljoen hektaar se mielie-aanplantings moet afskaal. Dit beteken dat net in die baie goeie jare 'n oorskot kan ontstaan. Mits reënval ondergemiddeld is, sal waarskynlik ingevoer moet word, voorspel hy.
Me. Buyelwa Sonjica, Minister van Minerale en Energie, sê die besluit om mielies nie vir biobrandstof te gebruik nie, is weens die kommer oor die feit dat dit 'n voedselgewas is wat nie vir energie gebruik behoort te word nie. Die finale beleid fokus op suikerriet en suikerbeet vir etanolproduksie. Sojabone, kanola en sonneblom word egter steeds vir biodiesel geoormerk.
Daar word egter bespiegel dat die uitsluiting van mielies om politieke redes gedoen is.
Die goedgekeurde beleid sal 'n loodsfase vanaf 2008 tot 2013 betree. Teen die einde van die tydperk sal mikpunte heroorweeg word. Teen 2013 wil die staat 'n mikpunt van 2% vir die produksie van biobrandstof hê. Dit is minder as die 4,5% wat oorspronklik voorgestel is. Die vermengingsmikpunt vir biobrandstof is 8% bio-etanol (E8) en 2% biodiesel (B2).
Die korting vir biodiesel sal van 40% tot 50% verhoog word. Vir bio-etanol is dit 100%.
Landbouweekblad, 14 Desember 2007