'n Groot kopseer vir produsente van vars produkte, veral in nismarkte, is besweer met die bekendstelling van 'n nuwe internet-inligtingsbron wat die maksimum residu beperkinge (MRL) vir 85 verskillende gewasse beskikbaar stel.
Daarmee word gepoog om Suid-Afrika se mededingendheid in die internasionale varsproduktemark te verbeter. Een van die grootste probleme vir produsente van vars produkte is die gebrek aan inligting oor die maksimum toelaatbare residu vir beheermiddels in produkte wat vir uitvoermarkte bestem is.
Veral produsente van gewasse vir 'n kleiner nismark met 'n groeiende internasionale vraag ly daaronder omdat hulle nie bedryfsverteenwoordigers het wat steun kan verskaf nie.
Die inligtingsbron verskaf die jongste beskikbare inligting van vereistes vir Suid-Afrika se grootste EU-uitvoermarkte oor MRL'e vir 85 verskillende kleiner gewasse wat subtropiese vrugte, bessies en ander vrugte soos grenadellas, vye, granate, kumkwats, kiwi's en persimmons, asook groente en mini-groente, soos botterskorsies, patats, aartappels, wortels en broccoli insluit.
Dit is saamgestel deur 'n konsortium kenners wat bekend staan as Agribusiness Systems International (ABSi).
Die MRL Info Hub sal vanaf 14 Desember toeganklik wees op die ABSi webblad by www.absi.co.za.
Landbouweekblad, 14 Desember 2007