'n Trop van 18 Afrika-wildehonde, wat as Suider-Afrika se mees bedreigde vleisvreter beskou word, is pas suksesvol vanaf die Marakele Nasionale Park, naby Thabazimbi in Noordwes, na die Noordelike Tuli-wildreservaat in Botswana oorgeplaas.
Dié trop is 'n geskenk van Sanparke (Suid-Afrikaanse Nasionale Parke) aan sy eweknie in Botswana. Die honde is deur die motorvervaardiger Land Rover na hul nuwe bestemming vervoer as deel van dié voertuigvervaardiger se vennootskap met die Beskermde Natuurlewetrust se vleisvreterbewaringsgroep.
Die hervestiging van die trop wildehonde in die Limpoporiviervallei word allerweë in bewaringskringe verwelkom omdat die Noordelike Tuli-widreservaat geoormerk is om deel te word van die groter Limpopo-Shashe-oorgrensbewaringsgebied wat uit dele van Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe sal bestaan.
Volgens kenners is daar minder as 500 vrylopende Afrika-wildehonde in Suid-Afrika oor. Die meeste van hulle is in die Krugerwildtuin te vinde. In 1997 het 'n studie oor die bevolkings- en omgewingsvatbaarheid van wildehonde aanbeveel dat hul getalle uitgebrei moet word deur ander troppe in ander nasionale parke en bewaringsgebiede te vestig. Sedertdien is nuwe troppe in onder meer die Hluhluwe-iMfolozi-, Madikwe- en die Pilansberg Nasionale Park en in De Beers se Venetia-Limpopo-natuurreservaat gevestig.
Die bestuur van hierdie bedreigde wildsoort word behartig deur die wildehond-adviesgroep, 'n vereniging wat uit vrywillige wetenskaplikes en bestuurders bestaan. Meer inligting is beskikbaar op die webwerf www.ewt.org.za/wag.
Landbouweekblad, 14 Desember 2007