Landbou
Hof beslis teen kommissaris
LUCILLE BOTHA

Die Randburgse Hooggeregshof het met koste teen die grondeisekommissaris van Noordwes en Gauteng beslis nadat sy bygedra het dat een van die grootste grondeise in dié provinsie sloer.

Die Baphalane-gemeenskap het in 1998 agt grondeise ingedien wat altesame sowat 102 000 hektaar landbougrond (hoofsaaklik wild- en beesboerdery) beslaan. Die gesamentlike koopprys word op R550 miljoen beraam en sowat 100 grondeienaars is betrokke.

"Soos met meeste ander sake het die kommissaris voete gesleep en sonder om enigeen in kennis te stel en dit in die Staatskoerant op 26 Augustus 2006 — sewe jaar later — afgekondig," het die voorsitter van die Atlanta Northam grondeisekomitee gesê. Hy wil weens moontlike intimidasie anoniem bly.

Die grondeienaars het reeds vroeg in 2005 'n Artikel 11A-verslag by me. Tumi Seboka, grondeisekommissaris van Noordwes en Gauteng (tans ook waarnemende hoofgrondeisekommissaris), ingedien wat toon die eis is ongeldig.

"In 90 % van die gevalle kon hulle bewys die grond was in die eienaars se naam geregistreer voor die afsnypunt en daar is nooit as gemeenskap op die plase gewoon nie."

Op 17 Augustus 2006 het die grondeisekantoor laat weet die saak sal na die Grondeisehof verwys word (soos deur die wet vereis).

Sowat 18 maande later het daar net dadels van dié onderneming gekom. Die Atlanta Northam-komitee het die hof genader om die kommissaris te verplig om die saak na die Grondeisehof te verwys.

"Regter Yasmin Meer het die boere gelyk gegee dat hulle geregtig is dat 'n saak binne 'n redelike tydperk na die Grondeisehof verwys moet word indien daar 'n dispuut tussen die grondeienaars en die kommissaris is. 'n Kostebevel is teen die regter voorgehou. Dit sal saam met die saak wat uiteindelik voor die Grondeisehof dien, aangehoor word."

Die saak moet voor 31 Mei 2008 na die Grondeisehof verwys word, het Meer beslis.

Dié uitspraak die argument dat boere grondeise vertraag finaal in die nek, sê die voorsitter.

"Hierdie uitspraak behoort vir baie ander grondeienaars 'n opsie te bied om mandamus-aansoeke teen die kommissaris uit te reik. Daar is nou reeds 'n presedent voor gestig."

'n Mandamus verwys na 'n hofbevel wat van 'n ander hof vereis om 'n wet deur te voer.

Seboka sê daar is sekere eienaars wat met hulle saamwerk (en nie die eis teenstaan nie), en hulle het tot dusver al hul energie op dié gefokus.

Volgens haar het die hofsaak die pas waarteen hulle werk selfs meer vertraag.

"Hierdie kan een van die eise raak wat nie gefinaliseer sal word binne die presidensiële afsnydatum van 2014 nie."

Landbouweekblad, 14 Desember 2007