Ten spyte van talle ondersteuningsprogramme vir opkomende boere is die implementering van dié programme nie na wense nie.
"Faktore soos die Regering se laksheid of onbekwaamheid weerhou opkomende boere van toegang tot ondersteuningsprogramme," het dr. Skox Sekokotla, voorsitter van Nafu se boere-ontwikkelingsprogram, gesê. "Daar is ernstige fragmentering binne die ondersteuningsprogramme en ons sal graag wil hê dat alle programme in een pakket saamgevat moet word."
Lede van die ontwikkelingsprogram kon in 'n kort tyd 20 verskillende hulpprogramme opnoem. Hulle is egter nie gelukkig oor die implementering van die programme nie en meen meer werksessies is nodig om dinge te verbeter.
"Ons wil ook graag hê dat Nafu meer betrokke moet wees by die programme om te verseker dat dinge spoedig sal gebeur."
Sekokotla sê dat instansies soos die Land Bank by programme betrek moet word.
Landbouweekblad, 14 Desember 2007