Toenemende besoedeling van waterbronne en 'n gebrek aan optrede deur die Regering hou ernstige gevolge in vir verbruikers en die kommersiële landbou, sê die TLU SA.
Dié organisasie eis in 'n skerp bewoorde brief aan die ministers van die departemente van landbou, waterwese en bosbou, minerale en energie en provinsiale en plaaslike regering dat die Regering, as die verantwoordelike instansie wat aanspreeklikheid vir die beskerming van hulpbronne dra, dringend optree.
Duisende beeste van veeboere langs die Wonderfonteinspruit in Noordwes sal moontlik van kant gemaak moet word weens radioaktiewe afvalstowwe in die water. Benewens die rooivleisbedryf word melk en gewasse ook bedreig, sê die TLU SA in 'n verklaring.
Die ministers word in die brief versoek om die omvang van besoedeling op deursigtige wyse te ondersoek en bekend te maak. "Nywerheids- en rioolbesoedeling van waterbronne kom op talle plekke voor en regeringsoptrede om dit te keer en reg te stel, voldoen nie aan verwagtinge nie," het mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA gesê.
Landbouweekblad, 14 Desember 2007