Landbou
Nuwe veldbulklub gestig


'n Nuwe veldbulklub, die Makaza-suurveld Nguni-veldbulklub, is in die distrik Vrede in die Oos-Vrystaat gestig. Die klub is uitsluitlik vir Nguni-bulle wat op die plaas Enterprise net buite Vrede aangehou word.

Die klub se oogmerk is om geharde, wetenskaplik getoetste bulle aan voornemende kopers beskikbaar te stel wat weens die uiterste toestande waaraan die diere blootgestel word, oral in Suid-Afrika sal aanpas en floreer.

Weens beperkte ruimte kan net bulle van genooide telers in hierdie stadium deelneem. Hierdie getal diere sal jaarliks op grond van die reënval en weidingstoestande bepaal word. Die huidige en moderne wetenskaplike veekundige en veeartseny toetse sal op die bulle uitgeoefen word om so ver moontlik 'n uiters volledige databasis oor elke bul aan die publiek beskikbaar te stel.

Die bulle word gedurende twee winters en twee somers getoets. 'n Veiling sal dan gehou word waar twee-en-'n-halwe en driejaaroud-bulle aangebied sal word.

Die stigterslede van die klub is mnre. Lourens Jonker, Lyon Olivier en Stian van As. Dr. Hannes Dreyer, veekundige van Vrede en lid van Veldbul SA, wat die meeste veldbultoetse in Suid-Afrika koördineer en kontroleer, sal ook dié klub onder sy vlerk neem.

Landbouweekblad, 14 Desember 2007