Dit sal sowat R60 miljard kos om grondhervorming af te handel. Dít is mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal van Grondsake, se nuwe raming om die oorblywende 21 miljoen hektaar grond oor die volgende paar jaar te herverdeel.
Hy sê hy is pynlik bewus daarvan dat die Tesourie se toekenning vir grondhervorming uiters skraps is. As die mediumtermynbegroting 'n aanduiding is, kan die toekenning relatief laag bly met die aankondiging van die nasionale Begroting in Februarie volgende jaar. Dít ten spyte van die dringende behoefte om die proses te versnel.
Amptenare van die Tesourie skryf die swak toekenning dikwels toe aan onvoldoende inligting oor grondhervorming, soos hoeveel projekte eintlik sukses behaal.
Die Tesourie het egter nie die departement se ramings uit die staanspoor van die tafel gevee nie, sê Gwanya. "Ons is gevra om 'n sakeplan op te stel en werk tans aan een wat presies uitstippel wat ons nodig het," het hy in 'n onderhoud met Landbouweekblad gesê. Gwanya sê hy het 'n dokument opgestel wat presies aandui wat grond kos en wat dit gaan behels om die grond te lewer. "Dít is die pad wat ons vorentoe gaan stap," het hy die nuwe dringendheid van grondhervorming verduidelik.
Hy waarsku egter dat daar nie meer so eng op die politieke mikpunte gefokus kan word nie. Om R60 miljard te bestee, gaan baie meer tyd verg as die sewe jaar wat oor is voor die oorspronklike spertyd vir grondhervorming in 2014 bereik word. "Ons behoort eerder van 2025 te praat sodat die bedrag oor 'n langer tydperk versprei kan word."
Meer tyd is egter nodig om stelsels in werking te kry en die tempo van lewering reg te kry sodat nuwe grondeienaars nie "verras" word deur die prosesse nie. "Ons moet ook versigtig wees dat ons nie die landbou skok nie. Ons kan nie verder aangaan om grond oor te dra sonder dat behoorlike stelsels werk nie, want voedselsekuriteit neem al meer die voortou in die staat se planne."
Landbouweekblad, 14 Desember 2007