Dit is onwaarskynlik dat 'n nuwe leier van die ANC drastiese veranderinge vir die landbou en grondsake sal meebring. Politieke kenners meen egter mnr. Jacob Zuma, adjunkpresident van die ANC, sal dalk net die beste ding wees wat in 'n lang tyd met die Suid-Afrikaanse landbou kan gebeur.
Bronne binne die ANC wat verkies om anoniem te bly, meen ook Zuma kan 'n goeie vriend vir die landbou, en kommersiële boere in besonder, wees. Nie net is hy toeganklik nie, maar hy is glo " 'n mens met wie 'n lang pad gestap kan word".
Dr. Frederick van Zyl Slabbert, bekende politieke ontleder, sê dit gaan min verskil maak wie volgende week as president van die ANC op dié party se kongres op Polokwane verkies gaan word. Die uitslae van die ANC se kieswyke wys Zuma het sover die meeste stemme, met pres. Thabo Mbeki tweede. Volgens Slabbert is "die les van Zimbabwe net te naby in die geheue van die ANC".
Die heersende party besef "goedkoop politieke truuks" kan nie meer in Suid-Afrika werk nie. Verder is die bevolking in Suid-Afrika omtrent 60 % verstedelik. Dít maak stedelike grond 'n groter kwessie as landbougrond. In vergelyking was Zimbabwe 85 % landelik gewees.
Word Mbeki en Zuma vergelyk, is dit duidelik dat Zuma beter verstaan hoe belangrik produktiewe plase in Suid-Afrika is. Die landbou sal waarskynlik meer toenadering by Zuma vind, meen Slabbert.
Wie ook al die leier word, sal die ANC se beleid moet uitvoer. "Zuma sal goed saam met boere werk. Hulle sal baie beter daaraan toe wees." Verder word uitgewys die markte het min reaksie getoon toe dit onlangs blyk dat Zuma die voorloper is.
Hoewel die direkteursgeneraal van staatsdepartemente die politieke situasie stip dophou, beïnvloed die sogenaamde leierskapstryd nie hul werk nie, sê mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal van Grondsake. "Zuma, Mbeki of mnr. Nelson Mandela kan môre doodgaan, maar die grondbeleid in Suid-Afrika sal onveranderd bly. Ons het almal in die vroeë 1990's besluit wat die beleid behels," het hy gesê.
Vir die volgende 50 jaar sál daar bestendigheid wees. "Ek sien programme nie as Thabo Mbeki se programme nie. As Jacob Zuma op die armes gaan fokus, sal ek dit nie as sy persoonlike agenda sien nie," het Gwanya gesê.
Dr. Jan du Plessis, nóg 'n politieke ontleder, sê dit maak nie saak wie die leier word nie. "Die beleid, soos dit tans is, sal in elk geval die dood van boerdery beteken. Dit is omdat kundigheidsvlakke al jare lank stelselmatig in die landbou vernietig en verwyder word. Dié neiging sal bloot voortduur."
Landbouweekblad, 14 Desember 2007