Landbou
Suiker bly hy's 'uitverkorene'
Deur JEAN-MARIE DE WAAL (jdewaal@landbou.com)

Die suikerbedryf is bevoorreg om een van die gekose gewasse vir biobrandstof te wees - veral as gekyk word na wat deur die finale beleid oor biobrandstof uitgesluit is, sê dr. Adrian Wynne, direkteur van nywerheidsake by die Suid-Afrikaanse Rietkwekersvereniging. Hy meen die mikpunt vir biobrandstof wat op 2% neergepen is, ís klein, "maar minstens is 'n begin gemaak".

Volgens hom kan die bedryf nou begin ontwikkel en groei.

Die bedryf is dankbaar vir die korting van 100% vir brandstof, maar Wynne weet nie of dít genoeg gaan wees om die bedryf die nodige hupstoot te gee nie.

'n Week ná die Kabinet se goedkeuring van die plan het geen betrokkene in die biobrandstofbedryf al die finale plan onder oë gehad nie. Dít ondanks versekerings vanaf die Departement van Minerale en Energie dat die plan onmiddellik beskikbaar sou wees.

Wynne kon dus nie sê presies hoe ander maatstawwe, soos die verpligte vermengingsmikpunt vir biobrandstof, as verdere noodsaaklike aansporings kan dien nie. Hiersonder kán die bedryf nie gevestig word nie.

"Dit is nou belangrik om die haalbaarheid te toets. Voorts moet gekyk word of daar 'n mark vir die suikeretanol bestaan, wat die brandstofmaatskappye bereid is om daarvoor te bepaal en watter onttrekking ter sprake is," sê hy. 'n Florerende etanolbedryf kan glad nie binne 'n jaar verwag word nie. Beduidende belegging is nodig. "Dit sal 'n benadering verg wat uit fases bestaan."

Verder moet deurgaans na die koste van etanolproduksie teenoor uitvoersuiker gekyk word, waarsku Wynne.

Prof. Emile van Zyl van die departement mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch sê Suid-Afrika gebruik 20 miljard liter brandstof per jaar. Volgens die beleid se mikpunt van 2% beteken dit 400 miljoen liter se biobrandstof. "In Amerika produseer een etanolaanleg sowat 400 miljoen liter bio-etanol. Die Suid-Afrikaanse mikpunt is dus nog nie beduidend vir die bedryf nie," het hy gesê.

Hy sê Suid-Afrika kan maklik bekostig om meer as 'n miljoen hektaar mielies vir bio-etanol te plant, maar mielies gaan altyd 'n "emosionele" gewas vir die Regering bly. "Daar móét eenvoudig na ander gewasse gekyk word. "

12 Desember 2007