Agri SA is bekommerd oor die algemene trant van die konsepbeleid op die nuwe onteieningswet. Die organisasie het vandag sy kommentaar op dié beleid aan die departemente van Openbare Werke en Grondsake gestuur. Hierin spreek hy sy ongemak uit met die algemene trant van die dokument wat "letterlik by Jan van Riebeek en Harry die Strandloper begin om 'n klimaat te skep vir groter ingrepe deur die staat in die eiendomsmark."
Hoewel Agri SA sy ondersteuning vir grondhervorming al herhaaldelik uitgespreek het en die organisasie die Grondwet en gevolglik ook die staat se bevoegdheid om te onteien ten volle erken, is die organisasie tog bekommerd oor die algemene trant van die dokument, sowel as sekere interpretasies en voorstelle wat daarin gemaak word, sê Mnr Lourie Bosman, President van Agri SA in 'n persverklaring.
Volgens Bosman word daar 'n bepaalde interpretasie aan artikel 25 van die Grondwet geheg, wat na Graan SA se mening nie noodwendig korrek is nie, aangesien wye diskresionêre magte aan die Minister gegee word, met 'n blote hersieningsbevoegdheid wat aan die hof verleen word.
Agri SA sê onteiening moet slegs as 'n laaste uitweg gebruik word en dat geaffekteerde grondeienaars direkte toegang tot die howe moet hê. Soos die beleidsdokument nou bewoord is, sal die Minister kan besluit om te onteien en vergoeding vasstel en sal 'n grondeienaar slegs 'n hof kan vra om die Minister se besluit te hersien, lui die Agri-SA persverklaring. "Dit is nie gelykstaande aan direkte toegang tot 'n hof, wanneer 'n persoon se grondwetlike regte aangetas word nie."
Agri SA is ook ongemaklik met die insinuasie dat grondeienaars so min as moontlik vir hul grond vergoed moet word. Die organisasie sê die proses van onteiening is 'n gedwonge proses waarin grondeienaars dikwels direkte groot ongerief en skade, anders as net die verlies van hulle grond ly, en hulle behoort daarvoor vergoed te word.
"Ons uitgangspunt is dat markwaarde die maatstaf behoort te wees en dat vergoeding spoedig en in kontant betaal moet word."
Agri SA doen in sy persverklaring 'n beroep op alle eiendomsbesitters om die konsep beleid deeglik te bestudeer en kommentaar te lewer daarop aangesien die konsep beleid alle bates insluit. Die spertyd vir die instuur van sodanige kommentaar is 14 Desember 2007. Eiendom omvat veel meer as net landbougrond en die voorgestelde wetgewing kan potensieel alle eiendomsbesitters raak, het Mnr Bosman gesê.
12 Desember 2007