Eiendomsagente is landwyd besig om plase namens die Departement van Grondsake vir restitusie te koop, hoewel geen sodanige ooreenkomste nog deur die departement gesluit is nie.
Mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal van die departement, het by navraag aan Landbouweekblad gesê as enigiemand voorgee dat hy die departement in dié verband verteenwoordig, "is dit bedrog en moet dit aan die kaak gestel word". Hy sê dit is omdat mense wat wil sien dat grondhervorming versnel, daarvoor kan val.
In dié stadium is slegs die provinsiale kantore van die departement gemagtig om grond namens die departement vir grondhervorming te koop.
Die kwessie het ter sprake gekom nadat dit aan die lig gekom het dat plase op beduidende skaal vir aankope deur die regering gewerf word. R20 miljard is glo daarvoor bewillig.
Roux Property Development Africa CC van Pretoria beweer hy het 'n mandaat van die Regering om plase te werf vir 'n projek wat geloods is om grondhervorming te versnel.
Die uitvoerende voorsitter, mnr. N.R. Shabangu, teken na bewering die koopkontrakte.
Volgens die maatskappy is hy deur die voorsitter van die projekbestuureenheid (PMU) van die Departement van Grondsake vir dié "diens" gekontrakteer, "maar die diensooreenkoms is nog nie gefinaliseer nie".
Die proses lok heelwat teenkanting uit omdat mense reeds pessimisties is oor die departement se gesloer met die afhandeling van grondeise.
'n Prokureur in die Noord-Kaap het ernstige bedenkinge oor die "projek". Hy meen dit is " 'n vinnige en maklike manier om 'n databasis van beskikbare plase saam te stel".
Mense word genader vir vertroulike inligting, soos titelaktenommers. Slegs plase wat as "lopende ondernemings" verkoop word en geen grondeise op het nie, kom in aanmerking.
Die aanbod behels 'n "konsepkontrak" wat voorsiening maak vir waarborge binne 30 dae afhangend van prysaanvaarding ná 'n besoek aan die plaas.
Na bewering is "spesiale amptenare" by die aktekantoor, munisipaliteite en die SA Inkomstediens beskikbaar om sake af te handel en die koop binne twee dae te registreer.
Dié bedrywighede het in Oktober begin.
Volgens Gwanya het nóg die departement nóg die Grondeisekommissie enige maatskappy aangestel om grond vir grondhervorming aan te koop. "PLAS (Pro-active Land Acquisition Strategy) is die enigste strategie waardeur die proses versnel word en dit behels nie dié benadering nie. Indien ons so te werk wil gaan, sal daar 'n agentskapsooreenkoms met 'n behoorlike kontrak gesluit word."
Toe 'n verkoper aangedring het om 'n formele dokument van ooreenkoms te sien, het 'n amptenaar van die maatskappy hom vererg en gesê hy "kan sy plaas hou".
Landbouweekblad, 21 Desember 2007