Landbou
Etanol: staat wil kompetisie 'uitwis'
JEAN-MARIE DE WAAL

Die Regering wil die bio-etanolmark vir homself behou. Hy gaan slegs instansies daarvoor gebruik waarin hy die meerderheidsaandeel hou. Met die uitsluiting van mielies as 'n gewas vir die produksie van bio-etanol wou die staat binnelandse mededinging in dié mark uit die weg ruim, is betroubaar deur verskeie bronne aan Landbouweekblad bevestig.

"Dit gaan oor meer as voedselsekuriteit. Die staat besef mielies sou sy belegging in suikerriet en suikerbeet as etanolgewasse in gevaar stel," word gesê.

Dít veral in die lig van die eerste suikerbeetprojek wat in Januarie volgende jaar in die Oos-Kaap geïmplementeer word. Hierin het die staat se IDC glo 'n aandeel van amper 50 %. In die verdere ontwikkeling van biobrandstofprojekte het die Departement van Handel en Nywerheid volle aandeelhouding.

Die Sentrale Energiefonds met 'n regstreekse belang in biomassa vir biobrandstof en wat deur die Departement van Minerale en Energie besit word, het glo ook druk uitgeoefen vir die uitsluiting van mielies.

Die graan- én die biobrandstofbedryf steier steeds ná die bekendstelling van die finale biobrandstofplan twee weke gelede deur die Kabinet. Die finale plan het almal onkant betrap, sê mnr. Andrew Makenete, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Biobrandstofvereniging (Saba).

Hy beklemtoon Saba ondersteun nie een gewas bo 'n ander nie.

Volgens Makenete is hulle verras oor die verlaging van die biobrandstofteiken, maar dit is waarskynlik omdat mielies uit die beleid gehaal is. In die konsepplan is 'n mikpunt van 4,5 % biobrandstofteiken gestel. Die finale plan meld 'n mikpunt van 2 %. "Dit benadeel eintlik almal, selfs die staat. Met die fokus op suikerriet en suikerbeet beperk ons onsself van staanspoor af," meen hy.

Makenete sê Saba gaan nou presies probeer vasstel wat die regering se beweegredes was. "Dit lyk nou asof die proses nie so oop was as wat ons gedink het nie."

Hy voorspel biodiesel sal nou vinnig begin vlam en die verhoogde korting van biodiesel op 50 %, sal die informele mark aanspoor. "Ek stel voor teleurgestelde mielieboere begin vir biodiesel produseer."

Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van me. Buyelwa Sonjica, Minister van Minerale en Energie sê die regering sal nie sy besluit oor mielies in die nabye toekoms heroorweeg nie. Hy hou vol die kern van die besluit om mielies uit te sluit berus op voedselsekerheid. "Die bedryf vergeet ons is eintlik 'n arm land."

Graan SA hou in Januarie 'n vergadering met me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou, om die saak te bespreek.

Landbouweekblad, 21 Desember 2007