Wêreldwye hoë graanpryse en die uitwerking daarvan op die vleis- en pluimveebedryf laat 'n spoor van skade in verbruikers se beursies, voedselmaatskappye se inkomstestate en inflasiesyfers. En die einde van die prysstygings is nog nie in sig nie.
Die era van lae pryse vir die meeste landbouprodukte is klaarblyklik voorlopig verby en verbruikers kan hulle staal vir nog prysstygings, sê mnr. André Hanekom, besturende direkteur van Pioneer Voedsel.
"Ons is nog nie klaar met prysverhogings nie. Koste styg aan 'n breë front: Van graan en brandstof tot salarisse."
Die wêreldwye skaarsheid van graan het invoerpariteitspryse in Suid-Afrika opgestoot met gemiddeld 48 % vir koring, 42 % vir wit mielies en 60 % vir geel mielies. Hanekom vrees dat ongunstige weersomstandighede wat in 2007 oeste in sekere van die voorste koringproduserende lande beperk het, kan voortduur en die aanbod verder onder druk plaas.
Hoewel die Internasionale Graanraad die totale koringoes in die wêreld vir 2007/'08 op 603 miljoen ton ietwat hoër as 2006/'07 se oes van 591 miljoen ton - raam, word verwag dat die wêreldwye verbruik van koring in 2007/'08 sowat 611 miljoen ton (1 miljoen ton hoër as in die vorige jaar) sal wees. Met 'n wêreldgraanvoorraad van 109,8 miljoen ton in 2007/'08, die minste in 30 jaar is Hanekom se kommer nie ongegrond nie.
Suid-Afrika se 2007-oes wat na verwagting sowat 1,76 miljoen ton (teenoor die 2006-oes van 2,1 miljoen ton) sal lewer, sal meulenaars noop om selfs meer koring in te voer.
Hanekom sê die prysstygings in geval van graan het sy maatskappy nie onkant betrap nie, hulle het hulle egter misgis met die omvang van die veranderde vraag- en aanbodsituasie. "Ons het gedink die koringprys sou opgaan, maar nie só kwaai nie. Ons het ook gesien die vraag na koring neem toe, maar het nie gedink die aanbod gaan só beperk word nie."
Hanekom sê voedselinflasie is een van die grootste risiko's vir enige voedselvervaardiger, en as dit teen dié trant voortduur, kan dit selfs 'n demper op die vraag na voedsel plaas.
Pioneer Voedsel het pas bekend gemaak dat sy bedryfswins (voor items van 'n kapitale aard) vir die boekjaar wat op 30 September 2007 geëindig het, R832 miljoen was. Dit is 11 % hoër as in die vorige jaar. Sy inkomste was R11,7 miljard 21 % meer as in die vorige boekjaar, maar die koste van verkope het met bykans 25% tot R8,2 miljard gestyg. Dit het druk op die winsmarge geplaas en 'n daling van 7,7 % to 7,1 % tot gevolg gehad.
Hanekom sê die verhaling van verhoogde koste is nog nie afgehandel nie en hoër pryse sal mettertyd na verbruikers deurgegee moet word.
Landbouweekblad, 21 Desember 2007