Landbou
Abattoir sluit sy deure
THEUNS BOTHA

Skok is in vleiskringe uitgespreek oor die besluit van die eienaars van die Oostelike Provinsie Lewende Hawe Agentskap (Opla) om een van die grootste slagplase in die provinsie se deure in Januarie 2008 te sluit. Dit was ook die enigste slagplaas in die land waar daar op 'n daaglikse basis veilings gehou is wat veronderstel was om as prys-barometer vir rooivleis te dien.

Mnr. Garry Moorcroft, mede-eienaar van die slagplaas, het aan Landbouweekblad gesê dat Opla die afgelope paar jaar groot finansiële verliese gelei het weens die uitbreking van verskeie veesiektes, onderhoudsprobleme met vriesgeriewe en personeelstakings.

Opla het die slagplaas in 2000 van Abakor gekoop en meer as R11 miljoen aan die verbetering daarvan bestee om aan die vereistes van die Europese Unie te voldoen. Benewens vleis wat aan Woolworths gelewer is, was dit ook ingerig om wilds-, volstruis- en rooivleis vir die uitvoermark te hanteer.

"Ondanks die feit dat ons die enigste slagplaas in die Oos-Kaap is wat ten volle aan die Wet op die Veiligheid van Vleis voldoen, moes ons met talle 'onwettige' slagplase meeding wat in die provinsie bedryf word. Ongelukkig kyk talle supermarkte en vleishandelaars net na die verskaffer wat met die goedkoopste prys — ongeag die gehalte en standaarde — vorendag kom. Dit het onmoontlik geword om in die omstandighede 'n winsgewende onderneming te bedryf. Daarom het ons besluit om nou die handdoek in te gooi."

Die grond waarop die onderneming staan, is vir 'n onbekende bedrag aan 'n Kaapstadse ontwikkelaar verkoop. Beeste, skape en varke sal nog tot middel Januarie geslag word. Altesame 220 werknemers, met wie daar pakkette beding is, word deur die sluiting geraak.

Landbouweekblad, 21 Desember 2007