Landbou
Subtrop verhoog dienslewering
ANDRIES GROENEWALD

Subtrop, die nuwe oorkoepelende kwekersvereniging vir avokado's, lietsjies, makadamias en mango's, roem daarop dat hy in sy eerste bestaansjaar beter én goedkoper diens aan produsente gelewer het.

Mnr. Derek Donkin, hoofbestuurder van Subtrop, sê toe dié vereniging sy beslag op 1 September 2006 gekry het, was die belanghebbendes in al vier die bedrywe oortuig dat integrasie die regte pad is om te loop, maar niemand was seker presies hóé dit in die praktyk sou werk nie.

Dit het egter etlike maande geduur voordat die voordele van die nuwe bedeling na vore gekom het. Die bedryfskoste van Subtrop was minder as wat dit gekos het om die vier bedrywe afsonderlik te bedryf. Dit het meegebring dat die vier verenigings se bydrae tot Subtrop vanaf 1 Maart vanjaar (2007) met 12 % verminder kon word.

Terselfdertyd kon Subtrop meer tegniese personeel aanstel as wat die vier afsonderlike verenigings saam in diens gehad het. In hierdie toestande kon die vier verenigings elk meer geld belê in "eie sake", soos navorsing en markontwikkeling.

Subtrop het tans ses tegniese beamptes wat elk vir 'n spesifieke streek verantwoordelik is, sê Donkin.

Landbouweekblad, 21 Desember 2007