Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het in 2007 gemiddeld R1 850 per ton vir Suid-Kaapse moutgars betaal - minder as 50% van die prys van goeie ingevoerde moutgars.
Toe Landbouweekblad middel-Desember met mnr. Leon Groenewald, voorsitter van die nasionale en Suid-Kaapse garsbedryfskomitee, gepraat het, was die invoerpariteitsprys vir goedkoop outgars ongeveer R3 000 per ton. Dié van puik Europese moutgars, wat allerweë as die standaard aan plaaslike garsprodusente voorgehou word, was omtrent R4 000 per ton.
"Die SAB kry vanjaar 'n groot winskoop," het Groenewald gesê.
Die SAB koop jaarliks sowat 200 000 ton moutgars van boere in die Suid-Kaap (70 %) en die noordelike besproeiingsgebiede.
Groenewald sê die garsoes was goed ten opsigte van grootte en gehalte. "Die stikstof was laag, maar die garsgehalte is eenvormig, wat regstellings vergemaklik."
Die garsprys bestaan uit R1 700 per ton plus 'n premie wat volgens 'n glyskaal bereken word. Boere wat ander grane produseer is uitgelewer aan gebeure op wêreldmarkte en moet met die soet en suur van onsekere prysstygings en -dalings saamleef. Die moutgarsprys word egter jaarliks deur konsensus vasgestel.
Die SAB probeer om 'n prys vir plaaslike gars vas te stel wat die beste passing ("best fit") is van die invoerpariteitsprys van gars (minus 'n afslag), die prys wat die SAB meen plaaslike boere vir maalkoring sal kry (plus 'n premie) en die koste om die gars te produseer. In 'n onderhoud verlede jaar met mnr. Charles Coe, handelsbestuurder van broumateriaal by SAB Miller, het hy erken dit is nie regtig 'n proses van bedinging of onderhandeling nie. Hulle probeer om konsensus te bereik, maar op die ou end maak die SAB 'n aanbod aan produsente.
prysvasstelling bly 'n turksvy en heelparty ander metodes is al geopper en bespreek, maar nie in werking gestel nie. Boonop is die SAB se verweer dat die garsprys van 2007 wel wêreldpryse, wat ten tye van die vasstelling gegeld het, weerspieël.
Die situasie word dalk ten beste opgesom deur iemand uit bouery-geledere. Mnr. Willem Bosman, hoofbestuurder van SABMiller se vermoutingsaanleg op Caledon, het in September by die Megaweek sy persoonlike opinie gelug, naamlik dat enigeen wat dink 'n vryemarkstelsel geld in die garsbedryf, in 'n "droomwêreld" leef. "Net een koper, die gebrek aan 'n sekondêre afsetgebied vir gars en prysbepaling aan die hand van ingewikkelde berekeninge is nie kenmerke van 'n vryemarkstelsel nie."
Landbouweekblad, 4 Januarie 2007