Kaapse koringboere kan weer asemhaal ná vier seisoene van droogte, klein oeste, lae pryse en in sommige jare 'n inkomsteverlagende samestelling daarvan.
Die sogenaamde Safex-prys vir koring was vroeg in Desember R3 020 per ton. Die Wes- en Suid-Kaapse oes is na raming 796 250 ton - 14% meer as die oes in 2006 van 698 250 ton.
Hoewel boere nie hul totale oes teen die hoë prys verkoop nie, sorg die strategie van kontrakte teen verskillende pryse dat die meeste boere darem gemiddeld R2 000 per ton tot R2 400 per ton vir hul oes sal kry.
Met 'n oestyd wat reg teen die einde, veral in die Suid-Kaap, deur vloede en opvolgreën in November ontwrig is, berig produktebestuurders by Wes- en Suid-Kaapse landbou-ondernemings van goeie oeste.
Mnr. Johan de Lange, bestuurder van produkte by Kaap Agri, sê die tradisionele droë gebiede in die Swartland, soos die Rooikaroo, Piketberg en Koringberg, het bogemiddelde oeste gehad, terwyl oeste in die natter dele gemiddeld was.
Die gemiddelde opbrengs was rondom 2,45 ton per hektaar. In die Suid-Kaap was die gemiddelde koringopbrengs amper 3 t/ha, sê mnr. André Uys, bestuurder van produkte by Overberg Agri.
Die proteïengehalte van die koring was vanjaar laer as die vorige twee jare. De Lange sê hulle het omtrent een en 'n half maal soveel graad B4-koring (proteïen-inhoud van 9 % tot 10 %) as in 2006 en drie maal soveel as in 2005 ontvang.
Die feit dat sowat 'n derde van die Wes-Kaapse koringoes B4 is, sal die meulenaars, wat koring met 'n gemiddelde proteïeninhoud van 11 % verlang, noop om meer koring in te voer om die regte mengsel te kry.
Hoewel November se reën vir individuele boere groot skade veroorsaak het, floreer aangeplante lusernweidings in die nat grond. Daar is genoeg weiding vir die vee wat 'n noemenswaardige bydrae tot boerdery-inkomste in die Suid-Kaap lewer.
Die laat reën in die Suid-Kaap het gehalte by klein hoeveelhede moutgars sodanig benadeel dat dit net vir voer benut kan word. Nogtans kla boere nie - die heersende prys is R1 700 per ton en daar is sprake dat boere selfs pryse van tot R1 900 per ton beding.
In die lig van R45 miljoen droogtehulp vir onder meer voeraankope aan boere in die Noord-Kaap se deur droogtegeteisterde somerreëngebiede, kan voergraan skaars en duur bly.
In 'n gewone jaar sou die boere veldweiding benut het en geen voer koop nie. 'n Toename in die vraag na kos uit die groeiende Asiese lande en mededinging van biobrandstofaanlegte word meermale aangevoer as redes vir stygende graanpryse, maar mnr. Leon Groenewald, voorsitter van die nasionale en Suid-Kaapse garsbedryfskomitee, sê stygende produksiekoste, veral brandstofpryse, kan ook veroorsaak dat boere minder produseer.
Landbouweekblad, 4 Januarie 2007