Die landbousektor moet aandag aan verskeie uitdagings en tekortkominge gee om die doelwitte van breë gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging ten volle te kan bereik, al is prysenswaardige vordering reeds gemaak, volgens 'n ondersoek wat pas gedoen is.
Die ondersoek is deur die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) en Landboubesigheidskamer (LBK) uitgevoer om die stand van swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (Agri-SEB) te bepaal. Dit is gedoen onder lede van die LBK en klante van die NOK.
Sowat 31% van die besighede wat genader is, het aan die opname deelgeneem, bestaande uit maatskappye wat 'n regstreekse verbintenis met primêre landbou het, asook besighede in die waardeketting. Die meeste groot koöperasies en voormalige koöperasies het deelgeneem. Saam het hierdie besighede sowat 25 000 mense in hul diens.
Die opname toon dat openbare en private sektore meer op bestuursontwikkeling moet fokus om van swart bemagtiging 'n sukses te maak. Meganismes moet ook ontwikkel word om kleiner maatskappye by te staan.
Mnr. Rian Coetzee, 'n sake-eenheidshoof van die NOK, sê hoewel die mense wat aan die ondersoek deelgeneem het, reeds positief teenoor swart bemagtiging is, bevat die uitslag ook elemente wat handig vir ander landboubesighede kan wees.
Dr. John Purchase, hoof-uitvoerende beampte van die LBK, het die goeie vordering met swart bemagtiging as bemoedigend bestempel.
Altesaam 92% van die deelnemende maatskappye is reeds met 'n SEB-strategie besig. Net soveel van die maatskappye beskou dit as só belangrik dat hulle hul senior bestuur en direkteure getaak het om die SEB te behartig. Slegs 8% het nog niks daaraan gedoen nie.
Klein maatskappye het aansienlik swakker in die ondersoek as die groter ondernemings gevaar. Beskikbare fondse was onder meer 'n remskoen, maar dit verhoed nie sommige van die kleiner maatskappye om ambisieuse doelwitte vir hulself te stel nie.
Groot maatskappye het 'n telling van 50% in die ondersoek behaal en hul mikpunt vir 2014 is 71%, terwyl die kleiner maatskappy aansienlik swakker met onderskeidelik 30% en 67% gevaar het.
2 Januarie 2008