Landbou
Bio-strategie: Ál meer kritiek
Deur NICO VAN BURICK

Die Regering se biobrandstofstrategie gaan niemand aanmoedig om in die bedryf te belê nie. Dit lyk ook asof die strategie meer daarop gemik is om geleenthede te beperk as om dit te skep.

Dít is van die kritiek wat na vore kom namate kenners die strategie, wat verlede maand bekend gemaak is, dieper ontleed het. Aanvanklik is in reaksie op die strategie hoofsaaklik gefokus op die besluit om mielies vir eers vir die vervaardiging van bio-etanol uit te sluit.

Mnr. Andrew Makenete, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Biobrandstofvereniging (Saba), sê benewens die mielie-kwessie is daar ook ander aansienlike tekortkominge in die strategie.

"In 'n land met 'n nypende energietekort, gaan die strategie nie ver genoeg om werklik 'n bedryf aan te moedig nie. In die suikerbedryf is daar wel die geleentheid vir een of twee groter bio-etanolaanlegte. Wat biodiesel egter betref, voorsien ons dat aanlegte op klein skaal gebou sal word." Hy sê Suid-Afrika se buurlande, soos Mosambiek, is meer gereed en gewillig om voluit vir 'n biobrandstofbedryf te gaan en hulle strategieë is meer gevorderd.

Mnr. Fanie Brink, besturende direkteur van Biofuels Industry Development, sê die strategie bevoordeel net die oliebedryf en niemand word werklik aangemoedig om in biobrandstof te belê nie. Die politici wil dit vir hulself hou en net semi-staatsinstellings, soos die Sentrale Energiefonds en die IDC (voorheen die Nywerheidsontwikkelingskorporasie) sal voordeel daaruit trek.

  • Meer hieroor in Landbouweekblad van 11 Januarie 2008.