Die skuld wat wit boere by die Land Bank aangegaan en vanuit die apartheidsera oorgedra het, moet deur die Regering hersien word.
Hierdie is een van verskeie konsepvoorstelle oor die landbou wat op die ANC se nasionale konferensie in Polokwane ter tafel gelê is. Die versoek dat na boere se skuld uit die apartheidsera gekyk word, kom van die ekonomiese transformasie-groepering van die ANC (ETC). Dié groepering het werksessies vóór en ná die ANC se nasionale beleidskonferensie gehou ter voorbereiding van die nasionale konferensie.
Die voorstelle oor grond- en landbouhervorming was gemik op groter deelname aan die landbousektor. Volgens die dokument moet dit "kollektiewe vorme van eienaarskap aanmoedig en voorligtingsdienste versterk sodat verseker kan word dat mense aan wie grond toegedeel word, dit volhoubaar vir voedselsekuriteit benut eerder as om dit aan die private sektor te verkoop wat dit dalk net in vakansie-oorde en golf-landgoedere wil omskep".
Landbouweekblad, 11 Januarie 2008