Landbou
Oorgrens dieresiektes bekyk
Deur ANDRIES GOUWS

Nuwe denke ten opsigte van oorgrens-dieresiektes en die invloed daarvan op internasionale marktoegang is dringend noodsaaklik vir die vleisbedryf in Suidelike Afrika. 'n Werkswinkel om opsies vir die toekoms te bespreek, word op 7 en 8 April naby Pretoria aangebied.

In 'n voorlopige bekendstelling van die werkswinkel sê prof. Ian Scoones van die Instituut van Ontwikkelingstudies aan die Universiteit van Sussex namens die reëlingskomitee dat die werkswinkel 'n uitvloeisel van navorsing oor 18 maande oor dié onderwerp is.

Dié ondersoek is gelei deur spanne in Suid-Afrika, Botswana, Namibië en Zimbabwe, en die bevindings sal op die werkwinkel bekend gemaak word.

Die werkswinkel kom op 'n tyd wat debatte oor hoe om marktoegang vir die armer veeprodusente van Afrika te maksimeer, bo aan die beleidmakers se agendas is.

Die oogmerk met die werkswinkel is om die verskillende beleidsopsies in die vier lande en vir die SADC-streek te bespreek en die pad vorentoe te beplan en daar word gehoop dat dit sal lei tot wyer hervormings in die hele Afrika.

  • Mnr. Manie Booysen, hoofbestuurder van Samic, sê dit 'n 'n baie belangrike saak omdat oorgrensparke bestaande veeartsenyheinings plek-plek laat verdwyn het en al die lande pas nie dieselfde beheermaatreëls ten opsigte van veesiektes toe nie en het ook nie dieselfde dieregesondheidstatus nie.

    9 Januarie 2008