Landbou
Etanolplanne 'bly op dreef'
Deur NICO VAN BURICK

Ethanol Africa, die maatskappy wat beoog om bio-etanol uit mielies te vervaardig, is nog vol moed dat hy met sy planne sal kan voortgaan ondanks mielies se uitsluiting as grondstofbron in die Regering se biobrandstofstrategie.

"Ons beskou hierdie bloot as 'n nuwe era in die stryd om by ons doelwit uit te kom," het mnr. Johan Hoffman, uitvoerende hoof, gesê. "Sodra daar 'n werskwyse vir lisensiëring bepaal is, sal ons om 'n lisensie aansoek doen en ons saak motiveer."

Hy sê me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, het dit tog duidelik gestel dat die deur nie toe is vir mielies nie. "Sy wil 'n surplus sien en ons weet mos almal daar is geen twyfel oor landbou se vermoë om 'n surplus te produseer nie."

Hoffman sê as Ethanol Africa 'n lisensie kan bekom, sal hy weer beleggers nader en dan kan die beplande prosesse voortgaan.

Volgens hom bly Ethanol Africa se kantoor op Bothaville ook oop. Personeel is wel verminder en die besturende direkteur, mnr. Joe Kruger, se kontrak is nie hernu nadat dit verstryk het nie.

Hy glo vas dat Bothaville nog sy etanolaanleg sal kry. "Dit sal ook nie die enigste wees nie. Daar sal nog aanlegte vir mielies op ander plekke ook gebou word. Mens moet net nie moed verloor nie. Om te kritiseer is maklik, maar dit verg baie meer om 'n onderneming te maak werk. As alles glad verloop, wil almal daarin deel. As daar 'n terugslag is, wil almal jou kruisig," sê die man, wat een van die eerstes was om oor bio-etanolproduksie in Suid-Afrika navorsing te doen.

10 Januarie 2008