Landbou
Hanekom weer Minister?
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Die landbou gons oor bespiegelinge dat mnr. Derek Hanekom, Adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie, 'n sterk moontlike opvolger vir me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou, kan wees.

Xingwana kan volgende jaar vervang word as 'n nuwe president vir Suid-Afrika verkies word. Hanekom het per SMS aan Landbouweekblad laat weet hy is nie daarvan bewus dat hy as 'n voorloper beskou word om volgende jaar wéér as landbouminister aangestel te word nie.

Op die ANC se kongres in Polokwane einde verlede jaar is die gewilde mnr. Jacob Zuma tot voorsitter van die party verkies. Die besluitnemingsarm van die ANC, die nasionale uitvoerende komitee (NUK), is ook verkies met die groter meerderheid komiteelede wat as lojale Zuma-ondersteuners, eerder as ondersteuners van die staatshoof, pres. Thabo Mbeki, beskou word.

Hanekom is onlangs op die ANC-kongres in Polokwane tot die nasionale uitvoerende komitee verkies. Hanekom het 1996 stemme gekry wat hom in die hoë posisie van 23ste uit die 80 NUK-lede plaas.

11 Januarie 2008