Hoewel Hoefslagfeeste meegehelp het om 'n unieke manier van raspromosie en gesinsvermaak in die land te vestig, moet die gehalte van die perdevertonings, wat eie aan hierdie feeste is, selfs nog verbeter.
Dit was die algemene gevoel op die jaarlikse ledevergadering van die aanbieder van die feeste, National Horse & Livestock Promotions (NHLP), wat op Kruitfonten, Potchefstroom, gehou is. Volgens 'n bekende Friesperdteler en lid van NHLP, mnr. Niekie Pienaar, moet 'n sekere vlak van professionaliteit in die vertonings eers bereik word voordat die hoeveelheid feeste wat gehou word, uitgebrei word.
Hy sê dit is veral van belang vir Friesperdvertoners by wie die gedagte aanvanklik ontstaan het om sodanige feeste te hou sodat dit as 'n forum ter bevordering van die ras kan dien.
Nadat die eerste Hoefslagfees van die jaar, op 2 Februarie te Crow's Nest in die Agter-Paarl gehou is, sal alles in die stryd gewerp word om Friesperdvertonings op komende feeste d.m.v. vooraf-keuring te verfyn.
Daar sal dus vanjaar slegs drie verdere Hoefslagfeeste gehou word, nl. op Geyerspan, Lichtenburg (10 Mei), Bloemfontein (6 September) en as deel van die Lentefees wat op 11 Oktober ook op Geyerspan gehou word.
'n Spesiale Friesperdvertoning, wat onder die Hoefslagvaandel sal geskied, word vir vanjaar se Kersiefees in November op Ficksburg beoog.
Die komende fees in die Agter-Paarl sal deur skouspelagtige vertonings deur vyftien verskillende perderasse gekenmerk word, waarin SA Vlaamperde, Percherons, Hackneys en Friesperde die hoofrolspelers sal wees.
'n Aantal spesiale items is ook geskep om deelnemers in mode- en kostuumdrag te akkommodeer. Die publiek word ook aangeraai om hul spesiaal vir die geleentheid uit te vat. Pryse vir die bes geklede paartjie is immers op die spel.
Die dag begin reeds om 07:00 met 'n perde-uitrit teen die westelike hang van Paarlberg, terwyl die verrigtinge in die hoofarena om 10:30 'n aanvang neem. Nog iets spesiaals op die dag is hondekompetisies wat tussen 12:00 en 16:00 in drie verskillende dissiplines afgehandel sal word.
14 Januarie 2008