Net die Amerikaanse supermarkreus Wal-Mart en die sporttoerustingvervaardiger Nike gebruik meer organiese katoen as Woolworths. Alle organiese katoen word ingevoer, dog dié winkelgroep se planne om in sy stygende vraag na organiese katoen te voorsien, is agtermekaar.
Woolworths was aan die voorpunt van 'n inisiatief om 'n organiese katoenbedryf te vestig en die eerste kommersiële organiese katoenproewe is aangeplant.
Woolworths, ComMarktrust ('n streeksontwikkelingsinisiatief), Katoen SA en die Organic Exchange, 'n internasionale organisasie wat hul beywer vir 'n toename in die aanbod van organiese katoen, het saam 'n loodsprogram op plase in dieOos-Kaap- en Limpopo-provinsies tot stand gebring. Die Landbounavorsingsraad vir industriële gewasse is ook betrokke by die projek.
Mnr. Darren Todd, groepshoof vir ontwerp, verkryging en tegnologie by Woolworths, sê die onderneming bevorder nie net die gebruik van organiese katoen nie, maar wil ook die plaaslike organiese katoenbedryf help uitbrei. "Ons glo Suid-Afrika bied uitstekende moontlikhede om katoen te kweek. Die geesdrif waarmee die boere aan die proewe deelneem is bemoedigend."
14 Januarie 2008